Aan die einde van 2016 is die naam van ons sinode verander van Sinode Wes-Transvaal na Sinode Goudland. Dit vorm alles deel van ‘n nuwe hoofstuk van ons sinode se geskiedenis waarin die fokus op twee missionale voetspore val, naamlik Missionale Kerkwees (gefokus op bedieninge na binne) en Missionale Diakonaat (gerig op bedieninge na buite).
Ons missie is om in God se liefde luisterende missionale gemeentes in God se wêreld te wees.
Die sinode Goudland strek oor Gauteng- en Noordwes-provinsies; van Nietverdiend en Zeerust in die Noordweste tot by Christiana in die Suidweste, van Roodepoort in die Noordooste tot Vanderbijlpark in die Suidooste.
Daar is 16 ringe in die sinode en 130 gemeentes, met interessante name soos onder andere Coram Deo, Rant en Dal Prisma, Kerk tussen die Mielielande, Lux Deo, PUK-Kandelaar en Veranderde Lewens. Saam vorm ons een groot familie wat iets van God se liefde met egtheid en omgee in die wêreld wil uitleef.