Hoe gaan ons 2018 binne?
Ek wonder, en toe lees ek weer Josua se boek…
Bang, onseker, afhanklik:
Ek voel vandag byna soos Josua voor die beloofdeland. Bietjie bang en onseker oor die toekoms. Hoe gaan dit met Goudland gaan in 2018? Hoe gaan die politiek van ons land uitspeel in 2018? Gaan daar uitkoms in die natuur kom met die verskriklike hittegolf wat ons belewe? Ja ons voel bang en onseker.
Om bang en onseker te voel aan die begin van ‘n jaar is nie so ‘n slegte plek om te wees nie, solank dit lei na groter afhanklikheid van die Here.
Ek dink nie Josua kon anders voel as bang en onseker nie want Moses is dood.
Moses is dood – jy lewe:
Dit is waar, nê, Moses is dood maar ek en jy lewe. Die feit dat ons lewe in 2018 beteken dat God ‘n doel het met elkeen van ons in 2018. Gaan God sy doel met jou bereik die jaar?
Wat ‘n voorreg om te lewe en daarom kan ons droom oor wat ons roeping en lewe gaan inhou.
Die Here is by jou:
Josua 1:3; “Soos Ek vir Moses gesê het, gee Ek aan julle elke plek waar julle kom:”
Met so ‘n belofte kan ek elke oggend my voete uit die huis waag, kan ek Sondag op die preekstoel klim, kan ek by nuwe lidmate se huise instap, ou lidmate bemoedig en hartseer mense gaan troos. Ja, kan ek selfs waar teenstand en probleme is instap en vra; Here, laat U koninkryk kom hier waar my voete nou trap en laat my woorde die boodskap van U koninkryk dra. Dankie Here, dat U by my is.
God se Woord:
Jos 1:7 Wees veral sterk en baie vasberade in die uitvoering van die wet wat my dienaar Moses jou beveel het. Moet daarvan nie links of regs afwyk nie. Dan sal jy voorspoedig wees, waar jy ook al gaan.
Jos 1:8 Hierdie wetboek moet die rigsnoer wees vir alles wat jy sê. Oordink dit dag en nag en sorg dat jy alles uitvoer wat daarin geskryf staan. Dan sal jy slaag in wat jy moet doen, jy sal voorspoedig wees.
Vat die Here se Woord in jou hand en weet verseker, die Woord sal jou help waar jy ookal gaan. Die Heilige Gees werk deur Sy woord. Sy Woord sal ons kerk help in 2018. Bly toegewyd naby aan God se Woord.
Gebed:
Ek bid vir jou wat nou hier lees dat God jou wonderlik sal seën en gebruik in 2018.
Ek is tot jou beskikking en sal graag in diensbaarheid wil help waar dit ookal nodig is.
Groete in Christus,
Johan Brink
(Voorsitter van die SBK)