HERMENEUTIEK beteken “die kuns van verstaan”. Hoe kom begrip tussen mense tot stand en hoe maak ’n mens sin van iets? Aan watter voorwaardes moet voldoen word en hoe verloop die verstaansproses presies? In ’n enger sin verwys hermeneutiek na die metodes en tegnieke wat gebruik word om geskrewe tekste te interpreteer. In teologie* word die begrip gewoonlik in teenstelling tot eksegese* gebruik, waar hermeneutiek meestal na die teorie en eksegese na die praktyk van die uitleg van Bybelse* tekste verwys.
Hermeneutiek het sy oorsprong in die filosofie*, waar “hermeneutiese filosofie” as ’n spesifieke rigting ontwikkel het. Ander toepassingsgebiede is bv regshermeneutiek (uitleg van wette), semiotiek (interpretasie van tekens) of die letterkunde (literêre kritiek). In die teologie het hermeneutiek as ’n gespesialiseerde toepassingveld ontwikkel omdat Bybelse tekste so duidelik na uitleg vra. Die interpretasie van die Ou Testament* deur die Nuwe Testament*, die uitleg van gelykenisse*, profetiese* tekste of apokaliptiese* literatuur is enkele voorbeelde. Belydenisskrifte* of kommentare kan ook as ’n vorm van hermeneutiek beskou word – so ook kontekstuele teologie (Kyk ook: Teologie, kontekstuele) of die besondere manier waarop die Bybel deur ’n bepaalde groep (bv vroue) gelees word.
’n Effektiewe Bybelse hermeneutiek moet vir alle fasette van die verstaansproses voorsiening maak. Dit sluit in die historiese dimensie (die Bybel verwys as historiese dokument gedurig na historiese gebeure), die strukturele dimensie (die manier waarop die teks, die literêre eenhede en die boodskap opgebou is) en die ontvangs-dimensie (die oorspronklike lesers vir wie die teks bedoel is, maar ook hedendaagse lesers en hulle situasie).
Hermeneutiek beskryf ’n dinamiese proses en probeer om verantwoordelik riglyne te ontwikkel vir die lees en verstaan van die Bybel. Dit vind plaas in nuwe tye en omstandighede en moet steeds tot nuwe lesers en hoorders spreek.
Vir verdere lees:
- AB du Toit (red) 1988. Handleiding by die Nuwe Testament IV. Pretoria: NGKB.
- Andrie du Toit (red) 2009. Focusing on the Message: New Testament hermeneutics, exegesis and methods, Pretoria: Protea. Bybelgenootskap van Suid-Afrika 1998.
- Verwysingsbybel 1983-vertaling: Band 2 Naslaanmateriaal. Kaapstad.
Skrywer: BC Lategan
http://cke.christians.co.za/2016/03/13/hermeneutiek/