In die media is daar die afgelope week kennis geneem van ʼn belangrike hofuitspraak in die Suid-Gautengse Hooggeregshof oor godsdiens in skole. Uitspraak is gelewer deur regter Willem van der Linde in die saak OGOD (Organisasie vir Godsdienste-onderrig en Demokrasie) versus ses skole. Die beheerliggame van hierdie ses skole is almal lid van FEDSAS, wat die skole in die hofsaak bygestaan het. Dié belangrike toetssaak het sy oorsprong in 2014 toe die applikant OGOD die hof versoek het om dit ongrondwetlik te verklaar dat sekere godsdienspraktyke in skole voorkeur bo ander geniet.

Die hof het sy ondersoek op drie vrae gerig. Die eerste het betrekking op sy bevindings of ʼn skool ʼn spesifieke godsdiens ten koste van ander kan bevorder. Die tweede saak aan die orde was of ʼn openbare skool self godsdiensbeoefening kan uitvoer en of dit slegs deur buitepartye op die skole se perseel gedoen mag word. Die derde vraag was of leerders gevra kan word met watter geloof, indien enige, hulle hulle vereenselwig. Die tweede en derde vraag is albei in die skole se guns beantwoord.

Berigte in die media interpreteer die uitspraak wat gelewer is as ʼn oorwinning vir OGOD. So ʼn interpretasie verteenwoordig egter nie die inhoud van die hofuitspraak behoorlik nie. OGOD se hofaansoek het 77 bevele teen ses skole aangevra en slegs twee van hierdie bevele is toegestaan. Die hofuitspraak bevestig in werklikheid die feit dat ʼn openbare skool behoort aan die onmiddellike gemeenskap waarbinne die skool geleë is. Dit bevestig dat die skool se beheerliggaam verteenwoordigend van die breër skoolgemeenskap is en dat hulle ooreenkomstig die Grondwet (Artikel 15b) en die Skolewet (Artikel 7) die gesag het om besluite te neem ten opsigte van belangrike aspekte soos ʼn skool se taal- en toelatingsbeleid en hoe godsdiens by die skool beoefen word. Dié belangrike aspek van die gesag van ʼn skool se beheerliggaam as liggaam wat ʼn skool namens die onmiddellike skoolgemeenskap bestuur, word deurentyd in die uitspraak bevestig. Die hof bevestig verder dat die Nasionale Beleid oor Godsdiens en Onderwys nie afdwingbare reëls daarstel nie, maar eerder ʼn belangrike dokument is wat riglyne oor godsdiens in onderwys verskaf.

Die Applikant mag nie die gedrag van die skole teen die Grondwet of teen die Skolewet uitdaag nie; dit mag dit net uitoefen teen die skool se eie reëls vir die uitvoering van godsdienstige oefeninge. ʼn Openbare skool mag nie die nakoming van ʼn enkele godsdiens bevorder nie. Die maak van beleid ten opsigte van die gedrag van godsdiensbeoefening by ʼn skool bly egter die reg en verantwoordelikheid van elke individuele skool se beheerraad. Die skool sal wettig optree solank sy godsdienstige nakoming met reëls van sy beheerraad ooreenstem.

Die NG Kerk het nog altyd van die standpunt uitgegaan dat die Godsdiensbeleid en -beoefening by openbare skole op ʼn billike, gelyke en vrywillige grondslag geskied. Hierdie beginsel word baie duidelik verwoord in die Skolewet na aanleiding van die Grondwet. Die NG Kerk was van die begin af ten gunste van vrywillige godsdiensbeoefening. Vanuit ʼn kerklike oogpunt gesien, is daar dus geen spanning ten opsigte van die uitspraak nie.

FEDSAS het die totale verwydering van enige vorm van godsdiensbeoefening vanaf die skoolterrein teengestaan. Die Suid-Afrikaanse Grondwet is nie soortgelyk aan die Amerikaanse model van ʼn waterdigte skeiding tussen kerk en staat nie, maar lê klem op verdraagsaamheid en diversiteit. Hierdeur het die hof die plek van godsdiens in die publieke sfeer bevestig.

Dit is die mening van regskenners dat die hof se motivering vir die toekenning van deeltydse verligting aan die applikant verrassend dun is. FEDSAS het reeds te kenne gegee dat die uitspraak bestudeer sal word en dat verdere regsprosesse nie uitgesluit is nie.